Menu Close

Omroepers

Wicus van Wyk - Rus in Vrede

Kleintyd al het ek met die wireless op die oor rondgeloop. Dis waar my liefde vir musiek onstaan het en daai saadjie het net gegroei, en gegroei….

Ek het alreeds vir drie verskillende radiostasies gewerk as omroeper waar ek musiekprogramme aangebied het. Uiteindelik het ek besluit om Radio Ritme op die been te bring. Dit was soms maar opdraende maar dan was die afdraende net soveel makliker. En hier is ons nou, met gesoute omroepers wat almal hulle beste gee en hulle goed van hulle taak kwyt.

Ek glo Radio Ritme sal net van krag tot krag gaan en as internet radio stasie sal uitstyg bo die normale. Musiek is die een taal wat ons almal praat.

Dis nie verniet dat Hans Christian Andersen gesê het:    “Where words fail, music speaks.”

Elna van Vreden

My radio-dae het begin toe my goeie vriend, Wicus van Wyk, my genader en begin oplei het as aspirant omroeper en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Radio stasies soos Whalecoast FM, Caledon FM, Wave FM het my genoeg vertroue agter die mikrofoon gegee, en is nou dankbaar deel van Radio Ritme.

Ek gesels graag oor ongewone dinge soos rampe, geskiedenis en vreemde verskynsels.  Dit gee my program, “Geite & Goeters” op ‘n Donderdag aand ‘n lekker inslag.

“Boeremusiek vang Spoed” op ‘n Saterdag middag is ook baie gewild en beloof om jou voete te laat jeuk!

So skop uit jou skoene, ontspan en laat die dag se sorge soos mis voor die son verdwyn…

WITHOUT MUSIC, LIFE WOULD BE A MISTAKE!

Peter van Schaik

Met my pa wat Nederlander is, kon ek na skool en verdere studies, vir agt jaar in Nederland gaan woon en werk. Daar was ek gelukkig gewees om bekende groepe en kunstenaars lewendig te kon sien optree. Rolling Stones, Pixies, Collective Soul, Feeder, Marylin Manson, Nickelback, en vele meer.

Vanaf 2012 kon ek Onrus weer my permanente tuiste noem. Hier bestuur ek ‘n plaaslike tydskrif, “SPLASH Magazine”, en het ek my tande geslyp in die radio omroep bedryf by Whale Coast FM in Hermanus, onder die mentorskap van Manie Kitching.

Na ons pragtige baba dogtertjie se koms in Augustus 2021, het ek eindelik weer tyd om te werk aan my passie, om met ander mense die klanke van goeie musiek te deel.

Ek sien uit daarna om die luisteraars se oordromme te terroriseer op Radio Ritme.

Alan Volschenk

Alan Volschenk

Die eerste liedjie wat ek kan onthou van my kinder dae was die cover version, Clap Your Hands and Stamp Your Feet van Maria. 

Net nadat ek skool verlaat het, kry ek die geleentheid om te DJ en van daar af het ek nog nooit weer terug gekyk nie. Alhoewel musiek nie my werk is nie, spandeer ek baie tyd daaraan en doen verskeie funksies vir partytjies en troues tot klank vir optredes van kunstenaars.

Ek kom te hore van Radio Ritme wat begin uitsaai en besluit toe om in te luister. 

Die res soos hulle sê, is geskiedenis…

Harry Pieterse

My eerste ondervinding in die radiowese was by Radio Unique in die klein Oos-Kaapse dorpie, Burgersdorp. 

Jare later het my strewe na beter vir my en my familie my gelei na Nelspruit se destydse nuwe radiostasie, Radio Laeveld. Ek was vir bykans 14 jaar betrokke by Radio Laeveld, en kon gemaklik enige van hul programme aanbied.

Ek voel gemaklik agter n mikrofoon, beskik oor goeie mensekennis, is welbelese en is uiters sensitief vir luisteraars se behoeftes. n Mens groei saam met jou luisteraars, word lief vir hulle en word deel van die luister gemeenskap.

Nou, na vele jare van radio stilte het Wicus van Wyk van Radio Ritme, my genader met n nuwe uitdaging. Ek het dit aanvaar met optimisme.

Sien my as ‘n vriend, iemand wat jou gemoed sal aanraak met lieflike, onsterflike musiek en kennis!

Ek deel graag my passie met jou!

Swannie Swanepoel

Gebore in die laat 1970’s en skool gegaan in die klein onbekende dorpie genaamd Pretoria.

Huidiglik is ek ‘n voltydse verkoopsverteenwoordiger vir ‘n groot maatskappy. Ek hou van braai, lekker musiek en goeie geselskap.

Ek het sedert 2010 begin uitsaai by Waterberg Stereo op ‘n deeltydse basis en onlangs by die span van Radio Ritme aangesluit met ‘n nuwe lus vir radio.

My musiekkennis strek wyd en oor alle genres en dit wil ek graag deel met almal wat wil luister.

Kom geniet gister se treffers saam met my elke Saterdag vanaf 18:00 tot 20:00 in my program, ‘Jukebox Heroes’.

Bert Etsebeth

Ek is gebore in Krugersdorp, het daar groot geword, en woon nog steeds daar.

Van kleintyd af het ek geweet ek is ‘n musiekverslaafde.

As jong seun, het ek altyd rond geloop met die radio in my hand, en oral waar ek gegaan het was dit ek en my radio. Altyd geluister na die destydse Springbok Radio, Vrydae aand was dit die Top 20 saam met David Gresham, en sommer weer Saterdae middae ook geluister, na die heruitsending. Daardie jare se Radio 5 was ook ‘n gunsteling van my. Aan die einde van die destydse Standerd 9 (nou Graad 11), het ons vakansie gaan hou by ATKV Warmbad.

Ek het een aand na ‘n Sokkie gegaan, en toe ek in die saal instap het die DJ Modern Talking  se “You and me” gespeel.  Net daar en dan het ek besluit Musiek Maak, gaan ‘n groot deel van my lewe wees, (ongelukkig is daar een aspek wat tussen my en ‘n suksevolle sang loopbaan staan…….my stem LOL)

Van daar af, het ek ons familie se musiek maker (DJ) op al ons familie byeenkomste geword.

Tans doen ek troues, verjaarsdae ens. per geleentheid.  Ek het ook ‘n wonderlike geleentheid gekry op ‘n ander internet stasie, waar ek vir om en by 2½ jaar lank was.

Tans by Radio Ritme, en waar is dit lekker?…….Hier is dit lekker!

Ernest Aylward

Ek het 35 jaar lank in die bank gewerk en 2015 afgetree, Retired but not Expired.

My musiek kom my hele lewe lank. Ek het op skool in ‘n orkes tromme gespeel en met my vriende middae in die buitekamer van ons huis geoefen. My ma het altyd gesê “my kind jy is met ritme gebore”.

As ek nie musiek luister nie, verkoop ek huise as eiendomsagent by Sotheby’s Realty Internation.

My energie vlakke is hoog, so ek moet maar besig bly anders verloor ek dit.

Tredoux Badenhorst

Met my ouers wat n groot liefde vir musiek gehad het, het ek groot geword met baie “Classics”.  Later in my lewe het ek toe musiek klasse geneem in vocals en kitaar

Met n fyn oor luister ek na die stories wat kunstenare het om te vertel deur hul musiek. Ek glo dat die woorde in musiek, nooit gelykstaande aan spraak kan wees nie.  Alan Volschenk het my voorgestel aan Radio Ritme en net daar het die gogga van uitsaai my gebyt.

Ek hoop om een van jou gunstelling omroepers op hierdie fantastiese Afrikaanse platvorm te word.